SE Shows & Events



MOEG VIR DIE GEMORS


In die Cape Times van 28 April 2007 het 'n plaaslike inwoner vertel van die probleme wat hy teëgekom het toe hy van toksiese afval ontslae wou raak. 'n Munisipale amptenaar het hom aangeraai om bloot sy afval (gifstowwe, ou medisyne, insekdoders en ou batterye) in die vullisdrom te gooi, want dis wat almal anders doen.

Hierdie gevaarlike stowwe sou dus saam met elke ander Kapenaar se gemiddeld van 2 kg afval per dag op een van die oorblywende drie stortingsterreine om die Moederstad (naamlik dié by Coastal Park naby Muizenberg, en by Bellville en Vissershok) beland, wat so te sê almal reeds hul volle kapasiteit bereik het. Die een by Faure is reeds vroeg verlede jaar gesluit. Gegewe Kaapstad se daaglikse uitskot van tussen 5 000 en 6 000 ton, is dit te verstane dat die oorblywende terreine onder geweldige druk verkeer. Die stad se Direkteur vir Soliede Afval, Rustim Kaan, het op 11 April vanjaar slegte nuus vir afgevaardigdes by Stad Kaapstad se Beraad oor Afvalvermindering gehad: Stortingsterreine wat ontwerp is om 20 jaar te hou, word nou binne helfte van dié tyd gevul!

Suid-Afrika staan klaarblyklik voor die groot uitdaging om reg aan die regering se hoë mikpunte vir die omgewing te laat geskied, wat in 2002 op die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in Johannesburg geformuleer is en onder meer op 'n 50% afname in die volume gevaarlike afvalstowwe en 'n 25% afname in die volumes van stortingsterreine teen 2012 gemik is - tesame met 'n optimistiese zero afval teen 2022.

Negentig persent van ons afval word as nutteloos beskou, selfs al kom tussen 70% en 80% daarvan uit onhernubare bronne, en al behoort dié persentasie eintlik vir hergebruik herwin te word. Soos sake nóú staan, beland herwinbare afval tussen massas e-afval (elektronika), wit afval (elektriese onderdele), toksiese afval (uit nywerheidsprosesse), olie, skrootmetaal en bourommel. Die oplewing in die boubedryf versnel die punt van versadiging. Verlede jaar is stortingsterreine toegegooi onder 900 000 ton bourommel wat eintlik herwin kon word.

Ten spyte van die grootte en kompleksiteit van die projek, is die nuwe Groenpunt Sport Stadium 'n goeie voorbeeld van goeie afvalbestuur in diè bedryf. Al die bourommel afkomstig van die ou stadium word saamgepers op die perseel en gaan gebruik word vir stablisering tydens die bouproses. Volgens Dave Hugo, Direkteur 2010, Tegnies, gaan die Stad ook die ou stadium se dakplate verspei aan informele nedersettings, sodat dit gebruik kan word vir noodskuilings tydens oorstromings, brande asook ander natuurrampe. Mens kan maar net hoop dat toekomstige projekte in hulle voetspore sal volg.

Stortingsterreine word daagliks gekompakteer en bedek en moet aan minimum internasionale vereistes voldoen. Ongeag dié voorskrifte word toksiese tydbomme toegelaat om ongestoord voort te tik. Loog-reaksies vorm gevaarlike konkoksies wat jaar-na-jaar bly wegsyfer en groot bedreiging vir grondwater inhou. Boonop word natuurlike ontbinding deur die gebrek aan lug en sonlig belemmer. Dan word die prentjie verder vererger deur stortingsterreine se aansienlike bydrae tot kweekhuisgasse. Die ontplofbare metaangas wat deur hierdie kweekhuisgasse afgegee word is 'n groter sondaar as koolsuurgas wanneer dit by aardverhitting kom.

Maar wat stink kan ook die liggies laat blink. 'n Stad se oorskot kan in die toekoms met sy kragvoorsiening help. Op die oomblik word slegs een terrein in Afrika op dié wyse benut, naamlik dié by Mariannhill in KwaZulu-Natal, waar in Maart vanjaar met opwekking begin is. Dit sal na verwagting 1 000kW oplewer, wat vir insluiting in die nasionale kragnet verkoop sal word. Die terrein is ook die enigste ter wêreld met bewaringstatus en spog met 'n toeganklike woud, grasveld en nuut-gevestigde vleigebied.

Terselfdertyd kan stortingsterreine ingevolge die Kyoto Protokol miljoene rande se 'koolstof-finansiering' genereer. Die ooreenkoms bepaal dat ontwikkelde lande wat gedwing word om kweekhuisgasse te verminder, ander lande kan betaal om dit namens hulle te doen. Elke ton minder kweekhuisgas wat deur Suid-Afrika opgelewer word, kan dus as krediet op die mark verhandel word.

Neem nou in ag dat Suid-Afrikaanse munisipaliteite meer as R195 miljoen op afvalverwydering bestee en dat dit op 15 sent per stuk afval neerkom. Ook dat ons land se mense vir hul traak-my-nie-agtige houding oor afvalvermindering en -herwinning berug is en sleg afsteek by lande waar herwinning as vanselfsprekend by die huishoudelike kultuur ingeburger is.

Soos sake nou staan, word slegs 14% van Stad Kaapstad se afval herwin. Mark Swilling, hoof van die Instituut vir Volhoubaarheid aan die Universiteit van Stellenbosch (en wat ook aan die Beraad vir Afvalvermindering deelgeneem het) sê Kaapstad het 900 000 huishoudings, waarvan 28% in die middel- inkomste kategorie val en 14% as 'ryk' geklassifiseer word. Die rykes genereer tussen 40% en 50% van die afval weens hul hoër verbruik van verpakte goedere en ander middele, wat dan nie herwin word nie.

Dit kan grootliks toegeskryf word aan `n gebrek aan publieke inligting, sowel as 'n tekort aan dienste en infrastruktuur te wyte, wat vir die skuif van tradisionele afvalverwydering na afvalbestuur nodig is.

Etlike herwinningsprojekte en terugkoop-sentrums is reeds op die been, waarvan die meeste onder nywerheidbestuur is en ook deur hulle befonds word.

Enviroglass is al jare lank met glasherwinning besig (en sy groot groen igloo's - in baie gevalle met amateurs se graffiti betakel - deel van die stadslandskap). The Glass Recycling Company het onlangs ook sy toetrede aangekondig met 'n belofte om teen Maart vanjaar 160 glasversamelpunte in die groter Kaapstad-gebied te plaas ... waarvan tot dusver helaas nog niks te siene is nie.

Van die bewusmakingsveldtogte is Collect-a-Can waarskynlik die een wat die publiek die meeste van bewus is. Dit word op nie-winsgewende voet deur Mittal Steel beheer en tel 37 000 blik-opgaarders, van wie 82% andersins sonder werk sou sit, onder sy medewerkers. Collect-a-Can se vêr-reikende opvoedkundigeprogram betrek ook 700 skole oor die hele gebied. Om metaal te herwin verg 90% minder energie as om dit nuut te skep en die herwinningsproses kan 'n hele paar keer herhaal word.

Papier uit kommersiële en residensiële bronne maak tot soveel as 40% van die inhoud van stortingsterreine uit. Deur hièrdie storting uit die weg te ruim sal die lewensduur van ons stortingsterreine verdubbel. Skole word dus deur plaaslike papiervervaardigers aangemoedig om afvalpapier te herwin en besighede steun ook dié beginsel. Sommige vervaardigers bied selfs aan om maandeliks of weekliks afvalpapier by hul groter kliënte te gaan haal.

Plastiek is ongetwyfeld een van die grootste uitvindings van ons tyd, maar ook die moeilikste om van ontslae te raak. Bottels kan soveel as 10 000 jaar neem om volkome af te breek en is dus onder die voorste besoedelaars. Die Plastiek Federasie van Suid-Afrika het in 1997 Enviromark van stapel laat loop om die publiek oor die bedryf se omgewingsbewustheid in te lig. Enviromark is op rommelbewustheid en die insameling en hergebruik van plastiek toegespits.

Maar al hierdie pogings loop nog nie op voldoende samewerking en AKSIE uit nie.

Seker die moeilikste uitdaging vir hierdie projekte is dat daar nie regulasies in plek is wat "verdeling by die bron" aanmoedig of selfs verpligtend maak nie. Sodra elke inwoner die verantwoordelikheid aanvaar om self sy of haar gemors uit te sorteer, sal dit ook die ongelukkiges van hul onbenydenswaardige taak verlos om PET (meestal plastiekhouers vir drankies) en ander soortgelyke artikels uit afvalhope te moet krap.

Die verkieslikste scenario is dat plaaslike owerhede ons in hierdie pogings bystaan met stelsels of dienste wat afvalvermindering makliker sal maak. Benewens 'n beter omgewing, bied dit ook ruim geleentheid vir werkskepping en die totstandkoming van entrepreneurs.

Intussen kan houers vir herwinbare afval by die huis en kantoor gehou word en u kan uitvind waar die naaste aflaaiplek is. Kaapstad se Oasis-projek en Footprints (beide werkskeppingsprojekte uit die gemeenskap) is uitstekende voorbeelde wat u steun waardig is. Daar is ook 21 ander aflaaiplekke in Kaapstad; kontak Stad Kaapstad se Waste Wise-program vir inligting. Nóg 'n nuwe herwinningsdiens is onlangs vir Kaapstadse huishoudings ingestel, naamlik Abundance Recycling, wat u herwinbare afval weekliks sal kom oplaai en vir sortering na Footprints of Oasis sal neem.

Volhoubaarheid van die omgewing is 'n GROOT vraagstuk wat in elke raadsaal op die tafel hoort. Dis tyd dat Suid-Afrikaanse maatskappye begin kopkrap oor die té groot deel van natuurlike hulpbronne wat as afval uit die vervaardigingsproses kom en oor hoe 'n beter verhouding teen selfs gunstiger winsvlakke bewerkstellig kan word. Die maak van 'n enkele selfoon verg 75 kg se hulpbron-materiaal en 'n tandeborsel 1,5 kg (luidens 'n amptelike nuusbrief gepubliseer deur die Stad Kaapstad). Ná alles moet die gesegde onthou word: 'Geen geld te meet op 'n dooie planeet'.

Duisende individue word deur sakesentrums bedien en maatskappye se positiewe 'verminder en hergebruik' voorbeelde sal met ewe gunstige gevolge deur personeel na hul private wonings en persoonlike omgewings deurgedra word.

Ek is, om die waarheid te sê, keelvol van almal se vullis in my omgewing! As mense omgee en begin saamwerk en genoeg bohaai opskop om die plaaslike regering tot aksie te dwing, gaan ons sommer gou weer die ware betekenis van die Skoonste Kaap ervaar!

_____________________________________________________
Kontakbesonderhede:
Footprints: 021 794 5863
Oasis-projek: 021 933 1587 of besoek www.oasisrecycling.co.za.
Abundance Recycling: 021 674 2497
The City of Cape Town: 021 400 1111
Collect a Can: 011 466 2939 www.collectacan.co.za
The Glass Recycling Company: - Western Cape
Deon McDillon on 083 448 77 54
www.theglassrecyclingcompany.co.za

Wheat Sheath